Mev Marié Oosthuizen, vrou van ds AJG Oosthuizen, word in 1939 genader om ‘n vrouerubriek in Die Hervormer, amptelike koerant van die Nederduitsch Hervormde Kerk, te behartig. Sy stig die NHSV te Pretoria in 1940 en word so die eerste NHSV Hoofbestuur voorsitter asook die eerste redakteur van Die Christelike Vrou.

Foto: Buiteblad van Die Christelike Vrou – Uitgawe Junie / Julie 1970 Jaargang XXVII Nr 9.
Met die NHSV kongres van 1943 is die behoefte en moontlikheid van ‘n publikasie vir die NHSV uitgespreek en vanaf September 1943 verskyn Die Christelike Vrou maandeliks as ‘n onafhanklike vroueblad. Verskeie vroue vanuit die Hervormde Kerk tree op as medewerkers en behartig maandelikse rubrieke, soos:
| Ons en Ons Kinders – Mev Rautenbach |
|
| Huis en Haard – Mev Rautenbach |
| Die Vuur van die Huisaltare – Mev Marie Ras |
| Gedachten naar Boven – Mev Ida Greyvenstein |
| Maatskaplike werk artikels – Mev Smit en mev CE Roos |
| Kinderrubriek – Mev Corrie Wolmarans |
| Om die huistafel – Mev Erasmus |
Later word artikels rakende gesondheid, nuttige wenke en boekbesprekings bygevoeg en word daar deurentyd gepoog om ‘n goeie balans te handhaaf tussen erns en komedie.

Foto: Die Christelike Vrou – Oktober 1989 – Jaargang 47 nr 9.
Aan die einde van 1946 styg die koste van drukwerk en is daar ook ‘n daling in die getal intekenare, wat veroorsaak dat die vroueblad nie elke maand gepubliseer kan word nie. Die redaksie van Die Christelike Vrou doen strategiese beplanning en bring die situasie onder beheer. Mev Ras is vanaf 1947 die redakteur van Die Christelike Vrou en in 1952 word die getal medewerkers uitgebrei na sestien. Mev Dibbie Botha tree vanaf 1971 op as subredakteur van Die Christelike Vrou en volg Mev Ras later op as redakteur tot en met 1987, waarna Mev Bets Booysen haar opvolg. Dr Elsabé Kloppers word as redakteur aangestel in 1996 en ons huidige redakteur, mev Magda van Deventer tree op as redakteur vanaf 2002.
|
| Foto: Die Christelike Vrou |
| Redakteur: Dr Elsabé Kloppers |
| Uitgawe: Konteks – Mei 1998 |
|
Vanaf die vroeë uitgawes van Die Christelike Vrou is sketse by artikels gebruik en die eerste foto verskyn in die weergawe van September 1950. Foto’s verskyn meer dikwels in die maandelikse vroueblad, asook op die voorblad, alhoewel sketse nog gereeld gebruik word om rubrieke toe te lig.
| Foto: Die Christelike Vrou |
| Redakteur: Mev Magda van Deventer |
| Uitgawe: Konteks – September 2003 |
|
|
Die oplaag van Die Christelike Vrou het vanaf 1943 tot 1990 vermeerder vanaf 2000 tot meer as 10 000 gedrukte kopieë per maand. In 1983 verdubbel die drukkoste en word die realiteite al hoe sterker dat die NHSV publikasie Die Christelike Vrou sal saamsmelt met die beplande tydskrif van die Kerk. Die Christelike Vrou, wat saam met die NHSV sy ontstaan gehad het, sal dus ophou om as ‘n onafhanklike publikasie die lig te sien.
Die Christelike Vrou verskyn vanaf 1990 in Die Konteks, die amptelike gesinstydskrif van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.
|
| Foto: Die Christelike Vrou soos dit huidiglik daar uitsien as ‘n gedeelte van die Konteks, onder redaksie van mev Magda van Deventer. |
|
(Bron: Vyftig jaar van Seën – NHSV 1940–1990 : Gedenkalbum by die vyftigjarige fees van die NHSV deur mev Milde Jordaan)
Publikasie is in hardeband beskikbaar by die NHSV kantoor.
|