... geloof
... dienslewering
... samewerking
... dankbaarheid
Jy is nou hier - > Tuisblad : Gedenkalbum :


 

Die Hervormde vrou

Hoogtepunte die afgelope eeu

Inleidend

Maria van Riebeeck, vrou van Jan van Riebeeck, was ‘n Hervormde predikantsdogter uit Nederland.

Die Hervormde Kerk was die eerste van die drie Afrikaanse susterskerke wat ‘n vrouevereniging toegelaat het. Daar was verskeie vroueverenigings in gemeenteverband gestig en daar het wel meningsverskille ontstaan oor watter een van hierdie gemeentelike verenigings wel die voorloper was vir die amptelike stigting van die NHSV in 1940.

1910

Die stigting van die heel eerste vrouevereniging in die Ned Herv Kerk word aan mev Ida Ruysch van Dugteren (foto) toegeskryf – sy is later getroud met prof JH Greyvenstein.

1918

Daar word melding gemaak van die stigting van die eerste Dorkasvereniging te gemeente Pretoria deur mev van Broekhuizen, vrou van dr HD van Broekhuizen, wat hoofsaaklik saam met die diakonie betrokke was by die versorging van armes. Na die verwoesting wat gesaai is deur die tweede Vryheidsoorlog, was armoede aan die orde van die dag. Die Kerk moes dus ingryp en die behoeftiges in eie geledere bystaan.

1924

Mev Marié (MR) Oosthuizen (foto), vrou van ds AJG Oosthuizen, stig die Dorkasvereniging kort na hulle aankoms te Germiston, hulle eerste gemeente.

1925

Tydens die Algemene Kerkvergadering word ‘n voorstel ingedien dat ‘n kommissie aangewys moet word vir die saamstel van ‘n Afrikaanse liederebundel. Twee vroue word op hierdie kommissie benoem, nl: mev ACG Erasmus (vrou van ds DF Erasmus van Ventersdorp) en mev Jo Fourie (vrou van dr HCM Fourie - bekende bybelvertaler). Hulle is betrokke by die uitsoek en byeenbring van liedere en mev Fourie vertaal ook van die liedere in Afrikaans.

1929

Mev Machteld Postmus (foto) stig die Ons Tuis groep maatskappy en op 23 Mei 1929 word ‘n Ons Tuis tehuis te Proesstraat, Pretoria met 10 inwoners in gebruik geneem. Sy was getroud met dr Johannes Postmus, die destydse president van die SA Reserwebank. Die Machteld Postmus tehuis geleë te Brooklyn ( Pretoria) is na haar vernoem en dertig woonstelle is as eenheid na haar man vernoem – hierdie tehuis word deur die Kerk bedryf.

Mev Johanna Brandt (foto), ook betrokke by die konsentrasiekampe en Kappie Kommando gedurende die Tweede Vryheidsoorlog, stig die Sustersbond te Vereeniging. Sy het ook verskeie boeke gepubliseer, waarvan sommige omstrede was. Sy was een van slegs twee vroue wat tussen 1907 en 1946 ‘n artikel in ons Kerk se publikasie, die Almanak, gepubliseer het.

1933

Op 9 April, buite ons republiek se grense in die Wit Hooglande van Kenia, word die Nederduitsch Hervormde Vrouevereniging gestig in die kerkgebou van die enigste gemeente van die NHK in die noordelike halfrond, naamlik die gemeente Rensburgrust te Eldoret, Kenia. Een van die stigterslede is mev Catharina Wolmarans (foto) en sy tree op as voorsitter van dié tak vir ongeveer dertig jaar tot en met die ontbinding van die tak. Met haar afsterwe in 2001 was sy ‘n lidmaat van gemeente Delmas.

1940

Mev Marié Oosthuizen (foto) stig die NHSV te Pretoria en word so die eerste NHSV Hoofbestuur voorsitter en beklee dié posisie vir ‘n rekord tydperk van 25 jaar. Die leuse “Wees ‘n seën” is deur mev Oosthuizen voorgestel en word so aanvaar deur die stigtingskonges. Sy is ook die eerste redaktrise van “Die Christelike Vrou” en hanteer van die eerste uitgawes alleen. Sy het ook die tapisserie “Boekevat” binne 14 maande geborduur, wat deel was van ‘n projek van die ATKV se vrouebeweging, wat die geskiedenis van die Groot Trek uitgebeeld het. Al die tapisserieë is deur vroue geborduur en hang almal in die Voortrekkermonument.

Nasionale kongresse van die NHSV vind vanaf 1940 jaarliks plaas en met enkele uitsonderings na gewoonlik in Pretoria.

Foto: Stigting van die NHSV op 22 Mei 1940 – 130 vrouelidmate, waaronder 85 afgevaardigdes het die stigtingskongres bygewoon in die Eendracht Skoolsaal, te Kochstraat, Pretoria.

1942

Die Ons Tuis projek het so gegroei, dat die Hervormde Kerk die inrigting onder sy beskerming neem en bestuur.

Die NHSV Hoofbestuur word as ‘n liefdadigheidsorganisasie geregistreer by die department van Volkswelsyn en takke word aangemoedig om dieselfde te doen.

1943

Vanaf September word “Die Christelike Vrou” as ‘n onafhanklike maandblad van die NHSV uitgegee.

1947

Die kerkwapen met die NHSV se leuse “Wees ’n seën” daarby, word vir die eerste keer as wapen van die NHSV gebruik. Mev Marie Ras, tesourier van die NHSV, word die tweede redakteur van Die Christelike Vrou .

1948

Beurse vir Hervormde teologiese studente word alreeds vir etlike jare beskikbaar gestel en in hierdie jaar word dit ook uitgebrei vir die opleiding van maatskaplike werkers. Die NHSV se Beurs-en Leningsfonds word daarna ook uitgebrei sodat enige Hervormde student kon aansoek doen vir beurse en lenings vir enige studierigtings.

1949

Die NHSV takke landwyd doen die spyseniering vir die inwyding van die Voortrekkermonument. Hierdie fondse was bestem vir die oprigting van die eerste NHSV Monumenttehuise.

1950

Tydens ‘n Algemene Kerkvergadering, vroeg in die vyftigerjare, word ‘n Raad vir Kerkmusiek ingestel en mev ACG Erasmus (betrokke by die liederdebundel in die laat 1920’s), word benoem as eerste vrouelid van hierdie Raad. Kerkorrelliste word by die Konserwatorium vir Musiek opgelei en mej Susan Engelbrecht is vir meer as vier dekades betrokke by die opleiding, waarvan etlike jare as hoof van die Konserwatorium.

1951

Die NHSV Hoofbestuur raak betrokke by verskillende instansies soos bv die Nasionale Raad vir Dowes, Blindes, Kindersorg, Alkoholisme, Kreupelsorg, Tuberkulose, Geestesgesondheid, Huweliksleiding, Kleuterskoolverenigings en KANSA.

1952

Mev Bes Mulder (foto) het vir verskillende gemeentes van die Hervormde, NG en Gereformeerde Kerke kanselklede geweef en die eerste kanselkleed is geweef vir die kerkgebou van die gemeente Philadelphia.

1953

Mev Alet van Staden (foto), predikantsvrou te Eldoret, Kenia arbei reeds vanaf 1948 in dié gemeente en NHSV tak met ywer en geesdrif. Te midde van moeilike omstandighede in die buiteland, lewer haar dinamiese leiding binne die NHSV voortreflike resultate. Saam met al die fondsinsamelingsprojekte deur haar geïnisieer en insette op kultuurgebied, word ‘n pyporrel vir die gemeente Rensburgrust, Eldoret in 1953 ingewy, te midde van wrede opstande in die land.

1957

Die toeken van kerklike stemreg word toegestaan aan die Hervormde vrouelidmaat asook toegang tot die Nagmaaltafel. Die Hervormde Kerk is die eerste van die drie susterskerke wat hierdie besluit neem.

Die eerste twee Monumenttehuise van die NHSV open hulle deure in Pretoria. Die eerste tehuis, Emily Hobhouse, is geleë te Capital Park, Pretoria-Noord en die tweede tehuis, Louis Trichardt, in Danville, Pretoria-Wes.

1959

Van Rensburg tehuis word die derde Monumenttehuis van die NHSV wat geopen word in Pretoria en is geleë te Danville, Pretoria-Wes.

1961

Met die mondigwording van die NHSV in 1961 word vaandels, soortgelyk aan dié een van die NHSV (foto links), aan die streke in Suid-wes (Namibië) en Rhodesië (Zimbabwe) geskenk.

Mev Marie Ras (foto regs), tesourier van die NHSV vir 35 jaar, word vereer deurdat ‘n nagraadse beurs vir maatskaplike werk aan haar opgedra word. Terselfdertyd word ‘n beurs vir teologiestudente aan mev Marié Oosthuizen, voorsitter van die NHSV, vernoem.

In die middel sestigerjare word die NHSV landwyd in sewe streke ingedeel en dien die streekvoorsitters op die NHSV hoofbestuur.

1963

Mej Anna Venter, werksaam by die Afdeling Interne Oudit vanaf 1960, word bevorder tot Hoof: Afdeling Interne oudit van die Ned Herv Kerk en beklee die pos vir 34 jaar.

1964

Die nasionale kongres vind in die Kruger Wildtuin plaas en wel in ‘n groot markiestent op Skukuza.

1965

Mev Dina Smit (foto) word verkies as die tweede NHSV voorsitter en beklee die pos vir 18 jaar tot en met 1983.

In die laat sestigerjare verskuif die NHSV kantoor vanuit die NHSV sekretaris se gemeente na die Dirk van der Hoff-gebou in Pretoria.

Die NHSV vier haar 25ste bestaansjaar

Die vierde Monumenttehuis van die NHSV, Piet Potgieter tehuis, se deure open te Potgietersrus.

1967

Die NHSV se nasionale kongresse vind nou elke tweede jaar plaas.

1970

Die amp van diaken word oopgestel vir vrouelidmate van die Nederduitsch Hervormde Kerk.

1975

Yolanda Dreyer word die eerste vrouestudent wat begin studeer by die Universiteit van Pretoria met die oog op die voltooiing van die BD-graad en word so die eerste vrouestudent by die Teologiese fakulteit.

Prof Y Dreyer

1977

Mev Dibbie Botha word die derde redakteur van Die Christelike Vrou.

1979

Die amp van die predikant word oopgestel vir vroue by die Algemene Kerkvergadering.

1981

Ds Yolanda Dreyer word bevestig in die amp van predikant en word so die eerste vrouepredikant om die kansel van ‘n Afrikaanse Kerk te bestyg.

1983

Mev Kotie Viljoen (foto regs) word verkies as die derde NHSV voorsitter en beklee die amp vir vier jaar.

Die amp van die ouderling word oopgestel vir vrouelidmate.

Mev Jeanette Fourie (foto links) word aangestel by die NHSV kantoor as sekretaresse vir die NHSV en beklee die pos tot vandag toe (± 22jaar).

1985

Tydens die nasionale kongres word daar besluit om slegs elke drie jaar kongres te hou.

Erelidmaatskap word toegeken aan mevv Marié Oosthuizen en Dina Smit, tydens die Nasionale Kongres, vir hulle bydraes tot die NHSV.

Die sewe streke van die NHSV word verder verdeel na veertien streke en tussentydse streekkongresse begin nou plaasvind.

Die vyfde Monumenttehuis van die NHSV, Andries Marié Oosthuizen tehuis (AMOT), se deure open in Parys.

Die Monument Dienssentrum van die NHSV, geleë by Van Rensburg Monumenttehuis, word in gebruik geneem.

‘n Handleiding vir predikantsvroue en NHSV besture is saamgestel deur die NHSV se Boekverspreidingskomitee en word uitgegee deur Kital. Op die foto oorhandig mev Grace Grobler van die NHSV se Boekverspreidingskomitee (regs) ‘n eksemplaar aan dr Johan Koekemoer, destydse hoof van Kital, terwyl mev Kotie Viljoen, voorsitter van die NHSV, toekyk. Nog ‘n publikasie van die NHSV Hoofbestuur wat deur die Boekverspreidingskomitee hanteer is, was getitel Vêr bo korale, en bevat dagstukkies geskryf deur predikante.  

1987

Mev Kotie Viljoen word aangestel as direkteur van Bejaardesorg en Mev Henriëtte Brayshaw neem waar as voorsitter van die NHSV Hoofbestuur.

Mev Bets Booysen word die vierde redakteur van Die Christelike Vrou.

1988

Mev Henriëtte Brayshaw (foto) word tydens die nasionale kongres verkies as die vierde NHSV voorsitter en beklee die pos tot en met 1992.

Die NHSV kantoor verskuif na die Emily Hobhouse dienssentrum op die eerste vloer.

1990

Met die NHSV se halfeeu feesvieringe, word ‘n gedenkalbum Vyftig jaar van Seën gepubliseer op versoek van die NHSV Hoofbestuur deur mev Milde Jordaan. Dié gedenkalbum bied ‘n oorsig oor die ontstaan en groei van die NHSV oor die afgelope vyftig jaar, die NHSV se betrokkenheid en aktiwiteite op vele terreine binne die NHSV, die Hervormde Kerk, die kerk in die breë en in die samelewing. ‘n Gedenkbord word ook deur die NHSV Hoofbestuur beskikbaar gestel ter viering van die NHSV se 50-jarige bestaan.

1993

Dr Rina Delport (foto) word verkies as die vyfde NHSV voorsitter en beklee die pos vir nege jaar tot en met 2001, waarna sy aangestel word as professor in Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Pretoria.

‘n Hervormde predikantsvrou, mev Lucia van den Berg (eggenote van ds Mossie van den Berg), word tydens die stigting van Aksie Vrouekrag verkies as nasionale voorsitter – sy was ook ‘n stigterslid en nasionale voorsitter van Dames Aktueel asook ‘n stigterslid van Jong Dames Dinamiek.
Vir jou, my vriendin is 4 digbundels wat deur die NHSV uitgegee word en bevat elk ‘n versameling van gedigte wat verskyn het in die Christelike Vrou en Konteks asook gedigte wat ingestuur is, maar nooit geplaas is nie.

1994

Tydens “Gesinsjaar – 1994” bied die NHSV Hoofbestuur ‘n projek aan naamlik ‘n Gesinstrein – Daar was ongeveer 450 passasiers – Hulle reis vanaf Pretoria deur die Oos-Transvaal, Laeveld, Krugerwildtuin en Noord-Transvaal. NHSV takke op hierdie roetes tree op as “gasvroue”.

1996

Tydens die NHSV se nasionale kongres word die nuwe logo en korporatiewe identeit “NHSV - Dinamies vorentoe” bekendgestel.

Dr Elsabé Kloppers word die vyfde redakteur van Die Christelike Vrou.

Erelidmaatskap word ook tydens dié kongres aan mev Kotie Viljoen toegeken vir haar bydrae tot die NHSV.

1997

‘n Tweede treintoer (foto) na die Oos-Transvaal en Krugerwildtuin word deur die NHSV Hoofbestuur aangebied.

Die NHSV Hoofbestuur loods ‘n nasionale projek, “NHSV Vreugde-tee”, ten bate van die Ondersteuningsraad.

1998

Dr Yolanda Dreyer word die eerste vrou wat verkies word tot die Kuratorium van die Nederduitsch Hervormde Kerk.
Dr Elsabé Kloppers (foto) word aangestel as Direkteur van IKSA (Instituut vir Kerkmusiek van Suid-Afrika).
Na die suksesvolle treintoere van die NHSV Hoofbestuur, word ‘n Bybellande-toer in September aangebied deur die NHSV Hoofbestuur en 36 toerlede vertrek op 5 September vir 20 dae na Israel, Egipte en Turkye.
Die eerste twee vroue ouderlinge, mevv Hester Wolmarans en Vera Koekemoer word verkies as lede van die Algemene Kommissie van die Nederduitsch Hervormde Kerk.
Die NHSV loods ‘n nasionale jeugprojek vir Jeugjaar wat bekend staan as “Jeugdinamiet” en Oktobermaand word spesifiek geoormerk vir jeugwerkprojekte. Die Hoofbestuur is ook betrokke saam met die Raad vir Jeugwerk met die daarstel van ‘n toerustingspakket vir jeugwerk.

1999

Die NHSV Hoofbestuur se eerste laserskyf word vrygestel getiteld Verhale van Afrikaanse Kinderhelde, met verhale van onder andere Dirkie Uys, die legende van Rachel de Beer en nog vele meer. Die vrystelling geskied saam met die herdenking van die tweede Vryheidsoorlog.
‘n Bybelstudie dagboek getiteld Gesinsaam word ook vrygestel deur die NHSV Hoofbestuur en die doel met hierdie publikasie is om die hele gesin te betrek by Bybelstudie.
Mev Bep du Toit, redaksielid van “Die Christelike Vrou” publiseer ‘n roman oor die lewe van Mev Johanna Brandt (sien 1929).
 

2000

‘n Feeskonsert, ter herdenking aan die NHSV se 60ste bestaansjaar, word gehou op 26 Mei by die Aula van die Universiteit van Pretoria. ‘n Skinkbordlappie, met afwerkings in die nuwe korporatiewe kleure en die nuwe NHSV logo en 60 jaar daarop geborduur, word beskikbaar gestel sowel as ‘n muurbord (foto) met die nuwe NHSV logo. Alle fondse geïn met bogenoemde feeskonsert en die verkope van feesartikels gaan ten bate van die NHSV Beurs- en Leningsfonds.

‘n Video Die Hervormde Vrou – Hoogtepunte van die 20ste eeu word uitgegee deur die NHSV Hoofbestuur en bevat hoogtepunte van Hervormde vroue betrokke op verskeie terreine binne en buite die Kerk.

Die NHSV Hoofbestuur gee ‘n eerste dagboek uit getitel Christenvroue 2000.  

2001

Die NHSV Hoofbestuur stel “Millennium Dagboek Christenvroue 2001” bekend en verskeie vroue vanuit die geskiedenis van die NHSV en Hervormde Kerk word hierin uitgelig.

Op 22 Mei, 61 jaar na die stigting van die NHSV, hou die NHSV dagbestuur ‘n “Blomberaad” saam met die bestuurskomitee van Ons Tuis en Monumenttehuise, lede van Administrasie van die Kerkkantoor, ADV en Bejaardesorg. Die doel met die beplanningsessie is om ‘n vyf jaar strategiese plan vir institusionele bejaardesorg in die Ned Herv Kerk op te stel.

Die NHSV Hoofbestuur stel ‘n tweede laserskyf bekend getiteld ”Bybelverhale vir kinders” (foto).

Die Liedboek van die Kerk word vrygestel in Oktober en dr Elsabé Kloppers lewer ‘n baanbrekers-bydrae met haar internasionale ondervinding en spesialiskennis van die himnologie, die wetenskap van die kerklied.

Die NHSV raak betrokke by die Tafelberger tehuis, geleë te Parow, Wes-Kaapprovinsie.

Die NHSV Hoofbestuur hou ‘n Kersmark in Pretoria aan die einde van November en winste word aangewend vir bejaardesorg binne die NHSV. 

2002

Tydens die NHSV Nasionale Kongres, word mev Marita Fourie (foto links) verkies as die sesde nasionale NHSV voorsitter.

‘n Spesiale oorkonde word ook oorhandig aan dr Elsabé Kloppers, vir haar bydrae tot die Liedboek van die Kerk.

Mev Magda van Deventer word die sesde redakteur van Die Christelike Vrou.

Op 14 November hou die NHSV dagbestuur ‘n verdere strategiese beplanningsessie saam met Bejaardesorg en die bestuurskomitees van die tehuise.

2003

Dr Elsabé Kloppers word aangestel as Hoof van die Konserwatorium vir Kerkmusiek van die Nederduitsch Hervormde Kerk.

Mev Zandra da Silva (foto), visetesourier vanaf 1996 tot 2002 van die NHSV, is betrokke by die Ned Herv Kerk se aansoek om belastingvrystelling vir die Kerk sowel as die NHSV.

“Dagboek 2003 vir Chistenvroue ” word deur die NHSV Hoofbestuur vrygestel en bevat heerlike kort resepte van NHSV Hoofbestuurslede.

Op 22 April word daar weer ‘n strategiese beplanningsessie gehou tussen die verskillende rolspelers betrokke by bejaardesorg in die Kerk.

2004

Mev Hybrecht Dupper (foto), NHSV streeksvoorsitter van die Noordwesstreek, word die eerste vrou om verkies te word as lid van die Algemene Kommissie van die Ned Herv Kerk.

“Dagboek vir Christenvroue 2004 ” word deur die NHSV Hoofbestuur vrygestel en bevat gedeeltes oor vroue uit die Bybel.

Op 10 September hou die NHSV Hoofbestuur ‘n suksesvolle strategiese beplanningsessie saam met Prof Theuns Dreyer, die uittredende voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, lede van die Moderamen, die Administrateur van die Kerk, voorsitter van die ADV asook ander rolspelers in die Kerk. Hulle lewer waardevolle insette tydens die werksessie vanuit die verwysingsraamwerk van die Kerk. Hierdie beplanningsessie was voorwaar dan ook ‘n geskiedkundige oomblik in die bestaan van die NHSV aangesien dit die eerste keer is wat ‘n Strategiese Beplanningsessie met al die rolspelers van die Kerk aangepak is. Prof Piet Geyser tree as fasiliteerder op en die uitgangspunt waarvandaan vertrek word, is dat die NHSV werk volledig Kerkwerk is. Die basispakket vir Kerkwerk, soos aanvaar deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, word as vertrekpunt gebruik. Hierdie strategiese beplanningsessie het weereens bevestig dat die NHSV besig is met Kerkwerk op alle terreine en dat die koers van die NHSV kerngesond is. Nuwe moontlikhede en aksente is ook geïdentifiseer wat tot kreatiewe aksies kan aanleiding gee en ontgin moet word.

2005

Erelidmaatskap word toegeken aan mev Henriette Brayshaw, tydens die Nasionale Kongres in Julie, vir haar bydrae tot die NHSV.

Die NHSV Dagboek: 365 dae Christenvrou word bekendgestel tydens die nasionale kongres. Hierdie tydlose dagboek bevat 365 kort gedagtes vir elke dag. Medewerkers vir die dagstukkies is NHSV Hoofbestuurslede sowel as vrouepredikante van ons Kerk.

Met die NHSV se 65ste herdenking, word ‘n glasblompot, met die NHSV logo daarop afgeëts, tydens die nasionale kongres beskikbaar gestel.

2006

Die NHSV se webblad word bekendgestel in Februarie tydens die NHSV se Hoofbestuursvergadering en die webadres is geregistreer as www.nhsv.co.za . Mev Mari-lizé Beukes, vise-tesourier van die NHSV Hoofbestuur, het die webblad ontwerp saam met die maatskappy Global Vision. Mev Beukes tree op as webbladredakteur sowel as webmeester.

 

 

 

 

oooooOOOOOooooo

Bronne:

1. Video – Die Hervormde Vrou – Hoogtepunte van die 20ste eeu. Navorsing gedoen deur mevv Fréda van Wyk, Milde Barnard-Weiss en Mnr Nandor Sarkady (Kerkargief),

2. Vyftig jaar van Seën: NHSV 1940 – 1990 deur mev Milde Jordaan. Gedenkalbum by die vyftigjarige fees van die NHSV.

(Beide video en hardebandboek is by die NHSV kantoor beskikbaar)

3. Konteks en Christelike Vrou uitgawes vanaf 1990.

4. NHSV Hoofbestuur notules.

VERKEN ONS WEBTUISTE:
 BEGIN  
 
 
Kalender Gebeurtenisse
Feb 2010
Ma Di Wo Do Vr Sa So
Monumenttehuise Finansiële Komitee
2
3
4
5
6
7
8
Beurs-en Lenings vergadering
10
11
12
Oorwinningskinders optrede
NHSV dankdienste ter herdenking van NHSV se 70ste ...
15
16
17
Monumenttehuise Bestuurskomitee
19
NHSV hoofbestuursvergadering
Eerste Lydensondag
22
23
24
25
26
27
Tweede Lydensondag
 
Gedagte vir die dag

Inspirasie

Ons tob soveel oor gister... beplan soveel aan more... en onderskat so die wonder van vandag...
      Webmeester: Mari-lizé Beukes -