|
Na aanleiding van ‘n Boekverspreidingskommissie, aangestel deur die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in 1937, volg die NHSV met ‘n Boekverspreidingskomitee, wat vir die eerste keer in 1942 vergader. Die doel was om Christelike leesstof beskikbaar te stel en te versprei. Verder het die boekverspreidingskomitee van die NHSV ook algaande betrokke geraak by die publikasie van kongresreferate, NHSV jaarboeke, boekmerke, kers- en groetekaartjies, verjaarsdagalmanakke, ‘n Bybelse dagboek en ‘n handleiding vir predikantsvroue en NHSV besture.
Nog ‘n publikasie wat deur dié komitee hanteer is, was die NHSV lied (Verenigingslied). Reeds voor die stigting van die NHSV in 1940 is besluit dat die NHSV wel ‘n lied moes hê. Tydens die stigtingskongres is hierdie taak aan die nuwe NHSV Hoofbestuur opgedra vir finalisering.

Die woorde van Prof B Gemser is getoonset deur W van Warmelo. Mev Marié Oosthuizen, voorsitter van die NHSV, het die komposisie oorgeskryf (foto), sodat dit in Nederland gedruk kon word. ‘n Paar maande na die stigtingskongres in 1940 was die Verenigingslied gereed vir publikasie.
Aangesien die aanvanklike melodie moeilik gevind is om te sing, word die toonsetting van mnr Willem Mathlener aanvaar.
Willem Mathlener – deur Susan Engelbrecht (Almanak 1997)
Willem Mathlener is gebore in Delft, Nederland op 31 Mei 1909 en is oorlede op 86-jarige ouderdom op 1 Mei 1996 te Pretoria. Op 17-jarige ouderdom word hy orrelis van die Nederduitsch Hervormde Kerk in De Lier. Sy opleiding sluit orrel, klavier, sang en komposisie in en hy ontvang ook opleiding as dirigent. In 1932 word hy orrelis van die Grote Kerk in Breda. Hy het vele konsertreise in Europa onderneem waar hy as solis en dirigent opgetree het.
In 1948, op 39-jarige ouderdom, emigreer hy en sy vrou na Suid-Afrika en word hy orrelis van die Nederduitsch Hervormde gemeente in Vereeniging. Vanaf 1949 tot 1953 behartig hy ‘n reeks programme vir die SAUK getiteld Die Kerk en sy Musiek. Hy rig ook ‘n skrywe aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering waarin hy aanbeveel dat daar ‘n Raad vir Kerkmusiek tot stand moet kom. Op 25 Mei 1951 vind die stigtingsvergadering plaas te Pretoria en is hy vir meer as dertig jaar sekretaris van dié Raad asook eksaminator vir eksamens by die Raad vir Kerkmusiek afgelê. Hy verhuis daarna na Krugersdorp waar die kerkmusiekskool sy deure open op 23 Januarie 1954. Mej Susan Engelbrecht, later ook aangestel as Direkteur van die Konserwatorium vir Kerkmusiek, het as student orrellesse by hom ontvang.
In 1960 verhuis hy na Pretoria waar hy aangestel word as Direkteur van die Konserwatorium vir Musiek. Hy beklee die pos vir 23 jaar tot en met 1983 waar hy betrokke is by voltydse naskoolse opleiding van toekomstige musiekonderwysers sowel as deeltydse musieklesse. Hy tree op as dosent in klavier, orrel, harmonie, metodiek en orrelbou. Hy het nagenoeg 200 orrels ontwerp en gewoonlik self die orrels bespeel tydens ingebruikneming daarvan. Hy behartig ook weeklikse orkesrepetisies, kritiekklasse vir voltydse studente en behartig ook koorafrigting.
Tydens die samestelling van 1978 se Psalm en Gesangboek, lewer hy die belangrikste insette namens ons Kerk se afvaardiging. Tydens die Algemene Kerkvergadering van 1989, ontvang hy die HCM Fourie erepenning.
ooooOOOOoooo
NHSV lied
Kom, susters,
slaan die hande
steeds
vaster in mekaar;
tot
troue liefdesarbeid
óm
Christus ons geskaar.
♪♪♪
Ons
eerste taak en roeping
is,
na sy Woord en Gees,
om
van ons huisgesinne
die
siel en son te wees.
♪♪♪
Maar
is daar nie ons nasie -
die
groter huisgesin?
En
stuur die Heiland ons nie
die
groter wêreld in?
♪♪♪
Ons
kerk, die kosb're erf'nis
van
vrome voorgeslag,
vra
ons vereende kragte;
ons
trou en liefdemag.
♪♪♪
Heer
maak U ons gewillig,
gee
U ons strydensmoed,
snoer
U die liefdebande -
bly
U ons hoogste goed.
♪♪♪
Wil
by ons swakke pogings
U
liefde ons laat blyk,
en
deur ons diens bevorder
U
heerlik Koninkryk.
♪♪♪
Woorde: Prof. B. Gemser.
Musiek: W. Mathlener.
(Die NHSV lied (gedrukte woorde en begeleiding) sowel as kassetopname en laserskyfopname is beskikbaar by die NHSV kantoor)

|