... geloof
... dienslewering
... samewerking
... dankbaarheid
Jy is nou hier - > Tuisblad : Gedenkalbum :

 

Vroue van die Nederduitsch Hervormde Kerk betrokke by die Liedboek

 

Dr Elsabé Kloppers – predikant, musikus en akademikus

Die Liedboek van die Kerk is vrygestel in Oktober 2001 en dr Elsabé Kloppers, as vroue-akademikus van ons kerk, lewer ‘n omvangryke bydrae met haar internasionale ondervinding en spesialiskennis van die himnologie, die wetenskap van die kerklied. Sy was lid van beide die gesamentlike Psalm-en-Gesangkommisies, lid van die redaksiekommissie van die Liedboek, lid van die rubriekindelingskommissie van die Liedboek en was ook voorsitter van die Hervormde Gesangkommissie. By die NHSV se nasionale kongres in 2002 is ‘n spesiale oorkonde aan haar oorhandig vir haar baanbrekers-bydrae tot die Liedboek.

Met haar betrokkenheid by die rubriekindelingskommissie, speel sy ‘n groot rol ten opsigte van die nuwe benadering tot die rubriekindeling volgens die kerklike jaar. Sy kon as beide teoloog en musikoloog insette van die hoogste gehalte lewer.

 

As lieddigter lewer sy ‘n groot bydrae en is verantwoordelik vir ongeveer sestig nuwe liedere en liedvorme. Sy was ook verantwoordelik vir die grootste aantal nuwe gesangtekste, vertalings en nuwe liturgiese vorme.

 

Sy het as pastoriekind grootgeword met ‘n ingebore liefde vir musiek en is vanaf 12-jarige ouderdom reeds orrelis. Sy lees graag poësie in Afrikaans, Engels en Duits en kon al haar liefdes integreer in die vertaling van liedere in Afrikaans. Tydens ‘n studiereis deur Europa in 1995, het sy teoloë, himnoloë, teksdigters en komponiste ontmoet. Die nuwe Duitse liedboek was in proses van sy bekendstelling en die Switserse liedboek se proefuitgawe was pas gepubliseer. Dit het haar in staat gestel om nuwe liedere te ontdek en te vertaal.

 

Vanaf 1996 tree sy op as redakteur van Die Christelike Vrou en is ook redakteur van die tydskrif vir kerkorreliste Vir die Musiekleier. Die Kloppers predikantsegpaar is ook betrokke by verskeie van die NHSV se publikasies en NHSV ontwerpe. In 1998 is sy aangestel as direkteur van IKSA (Instituut vir Kerkmusiek in Suid-Afrika), wat funksioneer as ‘n inligtingsentrum vir lidmate van alle kerke. Sy is daar verantwoordelik as spreker en kursusleier vir die toerusting van predikante, kerkmusici, kerkrade en lidmate. Sy is ook dosent in himnologie by twee universiteite, naamlik die Universiteit van die Vrystaat en Pretoria, navorsingsgenoot by die department Praktiese Teologie by UNISA en is ook ‘n deeltydse dosent by die Musiekdepartement van die Universiteit van Pretoria. Sy is ook dosent by die HTK (Hervormde Teologiese Kollege) in Liturgie en is ook betrokke by die ”African Institute of Misiology” waar sy ook himnologie doseer. Sy woon gereeld internasionale konferensies by, lewer referate en kry geleenthede om met vakgenote in gesprek te tree. Met die vrystelling van die Liedboek in 2001 het sy reeds ses grade met lof behaal, een graad gedoen vir nie-graaddoeleindes en was sy besig met haar doktorsgraad in Musiek. Sy en haar man, dr Wian Kloppers, het in 1998 ook die eerste predikantspaar in die geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk geword om saam hulle doktorsgrade te ontvang, en wel in Praktiese Teologie aan UNISA. In 2003 word sy aangestel as Hoof van die Konserwatorium vir Kerkmusiek van die Nederduitsch Hervormde Kerk.

 

ooooOOOOoooo

 

Cecilia van Tonder – koorleier, musikant en komponis

Drie van Cecilia van Tonder se oorspronklike komposisies is opgeneem in die Liedboek van die Kerk.

 

Sy tree op as komponis vir operettes, gewyde en sekulêre liedere, toonset gedigte en doen meerstemmige en instrumentale verwerkings. Haar komposisies word gereeld deur skole en kore gebruik en sy doen ook sanguitvoerings vir bejaardes en kerkorganisasies.

 

Met ‘n musikale familie as agtergrond, bekwaam sy haar as musiekonderwyseres aan die Normaalkollege in Pretoria en was sy ook lid van die Ambassadeurskoor. Sy was ook begeleier van die Jakarandastad Kinderkoor en orrelis van die Nederduitsch Hervormde gemeente Rietvallei, waar drr Wian en Elsabé Kloppers die predikantsegpaar is. Sy is huidiglik die dirigent van twee kore, naamlik die Duitse Mannekoor (Johannesburg) en die gesamentlike gemeentekoor van die Ned Herv gemeentes van Wapadrant en Rietvallei in Pretoria. Tydens die Algemene Kerkvergadering in Maart 2001, lewer ‘n gesamentlike koor van die gemeentes Wapadrant, Rietvallei en Zwartkop ‘n spesiale uitvoering, met Cecilia van Tonder as begeleier, van liedere uit die nuwe Liedboek. Sy is getroud met Johan van Tonder en het vyf dogters en drie kleinkinders.

 

ooooOOOOoooo

 

Marita Fourie – orrelis, musikant en NHSV voorsitter

As lid van die gesamentlike Gesangkommissie het Marita Fourie haar beywer vir die behoud van bestaande gesange en die byvoeging van gepaste nuwe liedere. Sy was ook lid van die Raad vir Kerkmusiek asook die aanvanklike Gesangkommissie van die Nederduitsch Hervormde Kerk.

 

Sy het van kleins af ‘n groot voorliefde vir die kerklied gehad en is vanaf 13-jarige ouderdom gemeente orreliste, ‘n pos wat sy tot vandag toe beklee. Sy het haarself in die regsberoep bekwaam, maar musiek bly ‘n onlosmaaklike deel van haar en haar gesin se lewe. Sy is getroud met ds Johan Fourie en het twee seuns en twee dogters. Hulle het as gesin al by verskeie geleenthede, onder andere by die NHSV se nasionale kongres, opgetree en sangitems met hulle eie begeleiding gedoen.

 

As onderwyseres in Bybelonderrig, vir leerlinge van graad 8 tot 12, benut sy die kans om die kerkliedere aan die skoolkinders bekend te stel. Sy reël ook jaarliks ‘n musiekfees wat orreluitvoerings en kore insluit en wat deur die breë gemeenskap bygewoon word. Nuwe kerkliedere word dan ook op so ‘n wyse aan die gemeenskap bekendgestel.

 

Tydens haar termyn as sekretaris van die NHSV, tree sy op as hoofkoördineerder vir ‘n tweede laserskyf, wat deur die NHSV Hoofbestuur uitgegee is in 2001. Die titel van die laserskyf is Bybelverhale vir Kinders, in Woord en lied, en al die gewyde liedere op die laserskyf is afkomstig vanuit die Liedboek en komplimenteer die Bybelverhale soos onder andere die Kersverhaal, die Barmhartige Samaritaan en vele meer. By die NHSV se nasionale kongres in 2002 word sy verkies as nasionale voorsitter van die NHSV.

 

ooooOOOOoooo

Marie Schoeman – musikus en onderwyskundige

Met haar agtergrond as kerkorrelis en haar begrip vir die kerkmusiektradisie, waar sekere liedere volgens tradisie by sekere dele van die kerklike jaargety aansluit, was Marie Schoeman betrokke by die samestelling van die Liedboek.

 

Sy is ‘n lidmaat van die Studentegemeente Philadelphia in Pretoria en is daar reeds orrelis vir die afgelope 30 jaar. Haar orrelopleiding het sy ontvang van wyle dr Socrates Paxinos. Vanaf 1981 is sy ‘n lid van die Raad vir Kerkmusiek asook ‘n lid van die komitee vir Kerkmusiek. Uitvloeisels van haar betrokkenheid by hierdie instansies was haar betrokkenheid by twee orrelistekursusse sowel as ‘n Bach / Händel Herdenkingskonsert in 1986. Die hooffunksie van die Raad vir Kerkmusiek is om goeie gemeentesang en orrelbegeleiding te bevorder en ook om kennis en begrip van die kerklied by predikante en orreliste van die kerk uit te brei, ‘n doel waarmee sy haarself ten volle kan vereenselwig. Sy dien ook vir etlike jare in die Hervormde Gesangkommissie.

 

Sy is Adjunk-Hoofonderwyskundige by die Gautengse Departement van Onderwys en is betrokke by ‘n program vir die bevordering van insluitende onderwys, Sy is ook ‘n medewerker in ‘n internasionale projek onder leiding van UNESCO en het sy vanaf 1998 tot 2001 skole in Europa besoek om hierdie modelle van insluitende onderwys te ondersoek. Sy is getroud met Prof Marinus Schoeman, hoogleraar in Filosofie aan die Universiteit van Pretoria en het twee seuns en ‘n dogter. Hulle dogter Adèle en seun Ben is uitstaande pianiste en violiste. Ben is trouens op jong ouderdom reeds ‘n internasionaal gerekende konsertpianis wat tans in die buiteland musiek studeer.

 

ooooOOOOoooo

 

 

Susan van Wyk – musikus, solis en koorleier

Afgesien van die feit dat sy vir die afgelope paar jare dien in die Gesangkommissie van die Nederduitsch Hervormde Kerk, was Susan van Wyk behulpsaam met die saamstel van ‘n kitaarbegeleiersboek vir die nuwe Liedboek.

 

Sy behaal haar musiekgraad met lof en doen ook ‘n honneursgraad in Wiskunde aan die Universiteit van Pretoria. As derdejaar musiekstudent raak sy ook betrokke by die eerste Jeugsangbundel van die Ned Geref Kerk en een van haar komposisies word opgeneem in dié Jeugsangbundel. Sy sing ook saam met haar man in die Tukkiekoor vir vyf jaar en tree ook as solis en begeleier saam met dié koor op.

 

Sy was ook verantwoordelik vir die musiekregie van die twee laserskywe wat deur die NHSV Hoofbestuur uitgegee is in 1999 en 2001, nl Verhale van Afrikaanse Kinderhelde en Bybelverhale vir Kinders, in Woord en lied. Al die kitaarbegeleidings op die tweede laserskyf is deur haar behartig. Van die nuwe gesange in die Liedboek is ook op die tweede laserskyf opgeneem en sy het ook ‘n paar verwerkings van die nuwe gesange gedoen vir kore en sanggroepe.

 

Sy is tans betrokke by die privaat onderrig van klavier en klassieke kitaar asook kleutermusiek onderrig by verskeie kleuterskole. Sy rig kitaargroepe af by Florida Hoërskool en is ook verantwoordelik vir die afrigting van die skoolkoor, die musiekregie van al die skool se musiekfeeste sowel as Trinity House privaatskool se musiekproduksies.. As koorleier was en is sy steeds aktief by verskeie skoolkore betrokke, waarvan die Wesrandse Jeugkoor een was.

 

Sy is getroud met ‘n predikant, dr Wouter van Wyk, wat ook betrokke was by die Psalmkommissie van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Al vier hulle kinders is ook musikaal onderrig en betrokke by musiekoptredes. Sy rig haar tuisgemeente, Weltevreden, se gemeentekoor af en doen ook die sangbegeleiding.

 

ooooOOOOoooo

 

Friena Maritz – musikus en pastorale koördineerder

As lid van die kommissie wat aanvanklik gewerk het aan die Proefsangbundel, het Friena Maritz as deel van dieselfde groep later meegewerk in die Gesangkommissie aan die nuwe Liedboek van die Kerk.

 

Tydens haar kinderjare as pastoriekind was musiek ‘n integrale deel van haar lewe met beide ouers wat uit musikale families afkomstig en intens lief vir kerkmusiek is. Met haar Honneursgraad in Musiek en Meestersgraad in Praktiese Teologie, tree sy op as koördineerder in haar tuisgemeente, Pretoria-Oos, vir pastorale aksies. Sy het ‘n groot belangstelling in die terapeutiese rol wat musiek in die pastorale situasie kan vervul. Sy is getroud met Ernst Maritz en het drie kinders.

 

ooooOOOOoooo

 

 

Bronne:

1. Spesiale gesamentlike uitgawe van Lig (NG Kerk) en Konteks (NH Kerk) – Oktober 2001 – Liedboek-Fees uitgawe,

2. Die Christelike Vrou – November 2001 – Liedboek-uitgawe.

3. NHSV Hoofbestuur notules.

VERKEN ONS WEBTUISTE:
 BEGIN  
 
 
Kalender Gebeurtenisse
Mrt 2010
Ma Di Wo Do Vr Sa So
1
2
3
4
Węreldbiddag vir Vroue
6
Derde Lydensondag
8
9
10
11
12
13
Vierde Lydensondag
15
16
17
18
19
20
Vyfde Lydensondag & Menseregtedag
Vakansiedag agv Menseregtedag (Sondag)
23
24
Monumenttehuise Direksie vergadering
Skole sluit
27
Sesde Lydensondag
29
30
31
 
Gedagte vir die dag

Liefde

Die liefde gaan nie daaroor om na mekaar te sit en staar nie, maar om saam in dieselfde rigting uitwaarts te kyk. - Antoine de Saint-Exupery (1900-1944), skrywer
      Webmeester: Mari-lizé Beukes -