Klap n Tekkie - Pamflet
Klap n Tekkie - Inskrywingsvorm
Die volgende
Klap ‘n Tekkie pretloop
vind op Saterdag 28 Februarie 2009
om 07:00 by die Fonteine in Pretoria plaas.
Die huiskomitee van Van Rensburg tehuis vir bejaardes in Danville, Pretoria-Wes, bied die pretloop vir die twaalfde keer aan.
Die tehuis bied 24 uur professionele versorging aan nagenoeg 114 verswakte bejaardes en gestremde inwoners. Daar is ‘n gespesialiseerde afdeling vir persone met Alzheimer se siekte en ook ander seniele demensies … ‘n behoefte wat nie in alle tehuise aangespreek word nie.
Die tehuis se inkomste word hoofsaaklik uit die losies van die inwoners en ‘n geringe staatsubsidie verkry. ‘n Beduidende persentasie van die inwoners is egter staatspensioentrekkers met ‘n klein inkomste. Die gaping tussen inkomste en uitgawes raak al hoe groter. Die bejaardes se beperkte inkomstes laat nie toe om die verskil op te maak deur verhogings in losiesgelde nie. Die gevolg is ‘n geweldige verlies aan inkomste. Daarom is die pretloop se inkomste so belangrik.
Inskrywingsvorms sal by die volgende punte beskikbaar wees ...
- Die Bejaardesorgkantoor, Malherbestraat 55, Capitalpark. Tel no 012-325 1857.
- Van Rensburg tehuis, Delaneystraat 69, Danville. Tel no. 012-386 5729.
- Run-a-way Sport, Glenfair Sentrum, Lynnwoodweg. Tel no. 012-361 3733/38.
- Running Inn, Winkel 10, Waterkloofrif Lifestyle Sentrum, Ridgewiew straat, Waterkloofrif. Tel no. 012-347 5225.
Versoek aan die publiek ...
Bring asb jou vriende, familie, babas in stootwaentjies, kollegas, kennisse, gestremdes in rolstoele en ook jou hondekinders aan halsbande saam. Kom stap die 1, 5 of 10 km in die mooi boomryke en veilige omgewing. Dis 'n lekker vrolike affêre! Die fondse wat so geïn word sal die voortbestaan van die tehuis verseker.
Fotografie kompetisie ...
Alle professionele, amateur fotograwe en mik-en-druk-entoesiaste kan deelneem. Al die inligting is by Marius beskikbaar by competition@pho2grafix. Drie wenners sal deur 'n paneel aangewys. Behalwe vir die drie pryse wat gewen kan word, sal die wenfoto ook vir redaksie deur die Rekord oorweeg word.
Trofeë:
Daar is 'n hele aantal waarvoor meegeding kan word.
Pryse:
Daar is verskeie kontant- en ander pryse.
Vriendelike groete,
Marietjie Aldum.
Bemarker: Klap n Tekkie pretloop.
Sel: 082 495 3350
E-pos:marietjie@aldum.co.za
Klap ‘n Tekkie Saterdag 23 Februarie 2008.
Dis 'n Saterdagoggend dou voor dag in die Fonteine. 'n Hele klomp gestaltes is besig om in die doflig rond te beweeg. Penne met km afstande word langs die staproete ingeslaan. Tafels en stoele word afgelaai. Kartonne met t-hemde en pette, borde vol toebroodjies, houers vol penne en inskrywingsvorms, trofeë, 2 liter Coke-bottels, bokse met watersakkies, sakke met medaljes ens word uit die voertuie gelaai.
Daar is ‘n gevoel van afwagting in die lug.
Dit begin stadig lig word. Hier en daar sê iemand dat dit inderdaad ‘n lekker dag gaan wees vir stap.
Alles is net-net in plek toe die eerste stappers opdaag. Geklee in t-hemde, sporthemde en frokkies van elke denkbare snit, kleur en klub vorm hulle ‘n kleurryke prentjie. Die kleur, vorm en grootte van die honde aan hulle halsbande laat meeste mense twee keer kyk. Baie stappers streel die honde. Dit laat hond se kind natuurlik naderkom vir meer van die lekkerkry! Babas en kleutes loer grootoog onder hulle stootkarretjies se dakke uit. Klaas Vakie se sandjies word hier en daar uit die ogies gevryf. Spiere word warm gevryf, strekoefeninge word gedoen. Beamptes is duidelik sigbaar in hulle groen beffies en ander weer in hulle hemde waarop die Klap ‘n Tekkie mannetjie ewe parmantig sy vinger wys.
Fonteinedal is op sy mooiste! Die lug is gelaai met energie.
Oor die megafoon word die stappers geroep om te kom aantree in hulle verskillende afstande. Hulle druk en beur, lag en skerts. Ander weer lyk meer ernstig en gefokus. Die skote klap. Die tekkies begin klap op die teer. Die rolstoele en die stootkarretjies kom in beweging. Die honde begin saam met hulle base op 'n drafstap.
So in die stap reik gretige hande na die koue watersakkies by die eerste waterpunt. Party stappers handhaaf ‘n stywe pas, ander weer loop rustig en kuier … geniet die varsheid van die lug en die mooi omgewing. By die tweede waterpunt kry die water weer aftrek.
Die 1 km stappers begin by die eindpunt opdaag. ‘n Rukkie later begin die eerste 5 km stappers of drawwers inkom. Hulle ontvang hullle medaljes. Daarna is dit tyd vir ‘n glasie Coke. Die geur van gebraaide wors en pannekoek lok almal nader aan die kostafels.
Nou is dit tyd vir lekker gesels oor stywe spiere, oor die trots en tevredenheid van vasbyt en klaarmaak, oor trotse oumas en oupas wat kleinkinders lewenslesse kon leer oor voluit en self stap om die medalje te kan ontvang ...
Die meer fikser stappers en drawwers is verby op die 10 km roete. By die derde waterpunt drink hulle weer so loop-loop. Party gooi die water oor hulle koppe en nekke.
By 09:20 is die laaste deelnemers by die eindpunt. Dis moeë lywe maar tevrede gesigte net waar jy kyk. Oorwinning smaak nou maar eenmaal soet! Hoe lekker smaak so 'n koue Coke darem nie! Die honde drink bakke vol water op, skud hulle lywe en gaan lê dan om al die doenighede te bekyk.
Nou vir daai pannekoek, worsbroodjies of koeldrank.
Die aankondiger roep almal nader vir die prysuitdeling. Daar is groot vreugdes as die sportkouse, frokkies, sporthemde, geskenkbewyse en kontantpryse almal base kry. Breë glimlagte as die trofeë oorhandig word.
Al geselsend en papnat van die sweet begin die stappers na hulle voertuie beweeg. Die medaljes al swaaiend om hulle nekke.
Die beamptes en ander helpers begin opruim. “Dankie vir jou hulp” en “Gaan rus nou lekker, hoor” word telkemale gehoor. Tafels en stoele word opgelaai. Aanwysingsborde, penne wat baie inskrywingsvorms voltooi het, rooi vlaggies ens kry hulle plek in motors se kattebakke. Die hondekinders, rolstoele en stootkarretjies vind ook hulle plekke. Enjins word aangeskakel en wiele rol huiswaarts.
Skielik is die twaalfde Klap ‘n Tekkie ten bate van Van Rensburg tehuis vir bejaardes in Pretoria-Wes, ‘n pretloop van die verlede. ‘n Mooi herinnering in sowel deelnemers as helpers se harte. ‘n Sterretjie-op-die-voorkop-poging vir die organiseerders.
Die publiek het weer ‘n keer bewys dat hulle omgee ...
|