|
Die hoofbestuur is reeds besig om uitvoering te gee aan die besluite wat geneem is ten opsigte van die beskrywingspunte wat tydens die kongres ter tafel geplaas was. U sal oor die volgende maande op hoogte gehou word oor die wyses waarop die besluite prakties geïmplementeer sal word ten einde ook op hierdie wyse aan die tema van die kongres Christenvroue se geloof moet gebeur gestalte te kan gee. Beskrywingspunte is volledig in die Kongresboek van 2005 opgeneem.
BESKRYWINGSPUNT NOMMER 1: BOODSKAP AAN DIE KERK
Die boodskap wat vanuit die kongres aan die Kerk gestuur is, is reeds aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en Kommissie van die Algemene Diakensvergadering gestuur.
Die boodskap behoort binnekort in die Hervormer asook Konteks (Christelike Vrou) gepubliseer te word. Die predikante van die Nederduitsch Hervormde kerk sal die boodskap ook binne die volgende weke ontvang.
Die hoofbestuur wil hierdie boodskap ook graag aan al die gemeentes stuur. Takke word vriendelik versoek om toe te sien dat die boodskap (sien webwerf: Kerk en gemeenskap - Boodskap aan die Kerk) aan die kerkraad oorhandig word vir hantering tydens ‘n kerkraadsvergadering en tydens ‘n kanselafkondiging.
Hierdie boodskap sal die Kerk opnuut verseker van die NHSV se voorbidding asook die NHSV se bereidheid om die pad in geloof saam met die Kerk te stap.
BESKRYWINGSPUNT NOMMER 2: ONAKTIEF RAAK/ ONTBINDING VAN TAKKE
Die kongres versoek vrouelidmate, ouderlinge- en diakensvergaderings van die Kerk om alles in hul vermoë te doen om te voorkom dat NHSV takke onaktief raak en ontbind. Die kongres versoek takke in dieselfde ring of omgewing, om mekaar behulpsaam te wees, te ondersteun en uit te reik na mekaar. Die kongres het dan ook volle ondersteuning gegee aan die inisiatiewe van die NHSV hoofbestuur om takke weer aktief te laat funksioneer.
Die kongres het verder aan die hoofbestuur toestemming gegee om onderlinge emosionele ondersteuning en finansiële hulp tussen groter (sterker) en kleiner takke te koördineer (binne rings-, streek- of breë verband).
Takke word versoek om kennis te neem van die prosedure wat gevolg word wanneer ‘n tak onaktief word of ontbind:
- die (gewese) voorsitter of predikantsvrou of predikant word gekontak deur die streekverteenwoordiger;
- hulp/motivering/ aanmoediging word aangebied;
- die vrouelidmate/gemeente word besoek (indien moontlik) en bemoedig;
- laasgenoemde word slegs gedoen met toestemming van die ouderlingevergadering van die gemeente;
- indien nodig kan die aangeleentheid na die ringskommissie en die
Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verwys word;
- die Ringsdiakensvergadering en die Algemene Diakensvergadering word ook in kennis gestel van die saak.
Sterker takke kan kleiner takke bystaan in hul funksionering en finansiële verpligtinge byvoorbeeld tak A kan tak B se Administrasiefonds aan hoofbestuur namens hulle doen. Hierdie strategie word gekoördineer deur die hoofbestuur deur middel van die streekverteenwoordigers. Die streekverteenwoordigers is reeds besig om ‘n opname in hul streke te doen oor takke wat probleme ondervind en takke wat kan help.
Takke word in die lig van bogenoemde dan ook versoek om met hul streekverteenwoordigers kontak te maak indien hulle hul weg sou oopsien dat ‘n ander tak hulle ondersteun. Takke wat vanweë finansiële probleme sou kon baat vind by die ondersteuning van ‘n ander tak kan ook met hul streekverteenwoordiger kontak maak.
BESKRYWINGSPUNT NOMMER 7: DRANK- EN DWELMAFHANKLIKHEID (VERAL BY DIE JEUG)
Kommer bestaan oor die toename van alkohol- en dwelmmisbruik onder die jeug.
Daar word reeds aan die volgende aanbevelings wat deur die kongres aanvaar is aandag gegee:
'n Ernstige beroep is op die owerheid gedoen om strenger te wees in die toepassing van die reëls en regulasies wat van toepassing is op die ouderdomsbeperkinge ten opsigte van sekere restaurante, nagklubs en kroeë.
'n Ernstige beroep is op die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en in besonder die Raad vir Gesinsorg gedoen om intensief betrokke te raak by programme ter voorkoming en hantering van die probleem van alkohol en dwelmmisbruik onder die jeug.
NHSV takke word aangemoedig om inligtingsaande rakende die onderwerp te reël. Plaaslike SANRA takke of kundige persone kan genooi word.
Ouers is primêr verantwoordelik vir die aanleer van 'n positiewe waarde en normestelsel by hul kinders. Ouers word dringend versoek om binne hul huisgesinne aktief betrokke wees in die lewe van hulle tienerkinders ten einde ook op hierdie wyse 'n teenvoeter te skep vir die druk wat tieners dikwels van hul portuurgroepe kry.
Ouers moet hulle vergewis van die gevaartekens ten opsigte van die neiging om alkohol en dwelms te gebruik/misbruik en indien nodig vroegtydig hulp kry deur van hulpbronne in die gemeenskap gebruik te maak.
Praktiese bystand moet aan gesinne wat blootgestel word aan alkohol- en dwelmmisbruik gelewer word.
Neem asseblief kennis dat adv Linda en ds Louis Pienaar beskikbaar is om ouers en kinders in hierdie saak by te staan.
Ds Louis Pienaar, telefoonnommer 012-6610655 / 0836251708
Adv Linda Pienaar, telefoonnommer 012-3931796 / 0827783539
Takke word versoek om hierdie inligting asseblief deur middel van u nuusbrief oor te dra aan elke gemeentelid.
BESKRYWINGSPUNT NOMMER 8: DISSIPLINE IN SKOLE EN GEMEENSKAP
Die NHSV spreek besorgdheid uit daaroor dat die gesag van die onderwyskorps meer en meer aan bande gelê word. Die geweldige vinnige transformasie en vernuwing in die onderwys (nuwe kurrikulums, verhoogde onderwyser/leerder ratio's, insluiting van verskillende kultuurgroepe in een klas en die afskaffing van enige vorm van fisieke straf) het alles plaasgevind sonder dat die onderwyser hiervoor voorberei is.
Voorts bestaan daar ook nie 'n ondersteuningsbasis vir die leerkragte nie. Hulle word eerder in die media afgekraak en almal oor dieselfde kam geskeer. Die onderwyser is tans niks meer as 'n pion in die hande van die staat, beheerliggame en selfs leerders nie.
Dit het tot gevolg dat dissipline op die skoolterrein ontbreek en dat moedeloosheid, frustrasie en paniek in die skoolopset na vore kom. Die gevolg hiervan is dat kwaliteit onderrigtyd verlore gaan en die jeug ly saam onder al hierdie faktore.
DIE OWERHEID WORD DERHALWE VERSOEK OM POSITIEF OP TE TREE TEN EINDE TE VOORKOM DAT ALGEHELE CHAOS IN SKOLE DIE OORHAND KRY.
Ouers word versoek om aandag en liefde aan hul kinders te gee en hulle te dissiplineer.
Die beskrywingspunt word reeds op die volgende maniere aangespreek:
1. U sal onthou dat u vroeër vanjaar versoek is om ‘n vraelys wat deur Dames Aktueel versprei was oor dissipline in skole en die gemeenskap te voltooi. Die vraelyste wat van die NHSV takke ontvang is word op ‘n breër basis verwerk en sal deel vorm van die finale verslag. Dr Maryn Botha en prof Wolhuter van die Universiteit van Noordwes- Potchefstroom kampus is tans besig om die finale verslag voor te berei. Hierdie verslag sal aan die takke gestuur word sodra dit ontvang is.
2. Die hoofbestuur is tans besig om in samewerking met die Kommissie van die Algemene Diakensvergadering en die Ondersteuningsraad programmateriaal saam te stel vir die toerusting en bemagtiging van ouers. Hierdie programmateriaal sal, sodra dit beskikbaar is, aan takke gestuur word.
BESKRYWINGSPUNT NOMMER 9: ONDERSTEUNING AAN DIE ONDERWYS- KORPS
Met die veranderinge in die onderwysstelsel in Suid-Afrika, bring dit mee dat die onderwyskorps toenemend in ‘n onsekere en gefrustreerde posisie geplaas word. Talle onderwysers is uitgebrand, ontnugter en verkeer onder geweldige stres. Onderwysers mag ook nie altyd meer hul Christenskap uitleef nie.
In die lig van bogenoemde is die voorstel gemaak dat alle takke daadwerklik betrokke sal raak by die onderskeie skole in hul omgewing.
In die lig van bogenoemde asook die aanbevelings wat deur die kongres aanvaar is wil die hoofbestuur takke vriendelik versoek om gedurende FEBRUARIE 2006 uit te reik na die onderwyserkorps en ondersteuning aan hulle te bied. Laasgenoemde kan op die volgende maniere plaasvind:
- Takke versoek predikante vriendelik om ‘n preek gedurende Februarie 2006 aan die onderwysers en die totale opvoedingsektor te wy.
- Takke raak direk en aktief betrokke by die onderwyskorps in u omgewing. Takke kan self inisiatief neem oor die manier waarop daar na die onderwysers uitgereik word. Enkele voorbeelde is onder andere:
- ‘n Teeskink-geleentheid tydens pouse by die onderskeie skole;
- ‘n Spesiale brief ter bemoediging kan aan elke onderwyser gestuur word (die NHSV komplimentêre strokie/briefhoof kan hiervoor benut word);
- ‘n NHSV boekmerk met die boodskap van die NHSV hoofbestuur of ‘n mooi gedagte kan aan elke onderwyser oorhandig word;
- Bogenoemde kan gekombineer word.
Laat weet die hoofbestuur gerus van die maniere waarop u na die onderwysers in u gemeenskap uitgereik het. Dit word beplan om jaarliks gedurende Februarie uit te reik na die onderwysers. Oulike idees is altyd welkom.
- Takke reël met ‘n predikant om gedurende Februarie 2006 die onderwysers in die personeelkamer te besoek en ‘n spesiale opening waar te neem.
4. Die NHSV hoofbestuur het ‘n kort boodskap geskryf wat namens die kongres aan onderwysers oorgedra kan word, sien die aangehegte boodskap.
‘n Kort artikel waarin hierdie saak aangespreek word verskyn ook reeds in die Oktober-uitgawe van die Christelike Vrou.
BESKRYWINGSPUNT NOMMER 10: AFRIKANER-ARMOEDE PROBLEEM
Armoede is die afgelope dekade besig om onder Afrikaners en daarom ook onder ons lidmate sterk toe te neem. Dieselfde tendens kom by die ander susterkerke en selfs wyer onder die breë Afrikaner gemeenskap voor. Tans is die Nederduitsch Hervormde Kerk saam met die Afrikanerbond en Solidariteit besig om die aangeleentheid te ondersoek en om 'n breë raamwerk vir optredes daar te stel. Die breë raamwerk moet verder deur rolspelers op nasionale- en grondvlak verbreed word en vir elke spesifieke gemeenskap aangepas word. In hierdie proses is dit belangrik dat alle instansies op grondvlak saamgesnoer word om die nodige aksie-beplanning vir die verligting van armoede te doen.
Die volgende aanbevelings is deur die kongres aanvaar:
1. Dat die NHSV hoofbestuur op nasionale vlak samewerking en betrokkenheid by alle rolspelers sal bevestig.
2. Dat NHSV takke hulle sal beywer in gemeentes en gemeenskappe om sodanige probleme te identifiseer en onder die aandag van die rolspelers te bring.
3. Dat NHSV takke in samewerking met gemeentes en kerkrade sal soek na oplossings om die armoede-probleem die hoof te bied, asook oplossings vir die gevolge van armoede naamlik gesinsgeweld, ongeletterdheid as gevolg van gebrek aan skoling, kindermishandeling en hongersnood om 'n paar te noem.
4. Dat NHSV takke daadwerklik sal poog om werksgeleenthede binne hulle gemeenskappe te identifiseer en te skep.
5. Dat die NHSV in samewerking met die ADV betrokke sal raak by die beraad en vraagstukke oor Afrikanerarmoede-probleem en die verarming van die lidmate van die kerk.
Daar is reeds op die volgende maniere uitvoer gegee aan die beskrywingspunt:
1. Die hoofbestuur het goedkeuring verleen dat daar formeel met die Alliansie
geskakel sal word. Die hoofbestuur het dan ook versoek dat mev Marita Fourie die NHSV saam met drs Wim Dreyer en Wilhelm Coetzer van die Kerk verteenwoordig. Takke sal op hoogte gehou word van enige verwikkelinge in die verband.
2. Takke sal ook sodra inligting beskikbaar is ingelig word oor plaaslike vlak alliansies waarby takke kan inskakel.
3. Die hoofbestuur het reeds ‘n ruim skenking aan die twee gemeentes in Stilfontein gedoen.
4. Die dagbestuur beplan ‘n werksessie met die vroue-lidmate van Stilfontein
waar daar op ‘n emosionele vlak na hulle uitgereik sal word.
5. ‘n Resepteboek met kwaliteit en ekonomiese resepte gaan saamgestel word en sal versprei word waar dit nodig is. Takke word versoek om resepte aan te stuur wat in die resepteboekie opgeneem kan word
6. Takke word versoek om ‘n strategie te bedink waarvolgens daar in gemeentes en ringsverband ‘n lys ten opsigte van diensverskaffers beskikbaar gestel kan word - ekonomiese bemagtiging van eie mense.
7. ‘n Riglyn vir die toerusting van dames ten opsigte van bestuursvaardighede word beplan.
8. Takke word versoek om aandag te skenk aan die ontwikkeling van klerebanke (noodvoorrade) – dit kan werkskeppend van aard wees.
9. Fondsinsameling van die hoofbestuur ten bate van die Rampfonds:
- ‘n Komitee is tans besig om opvolgwerk te doen vir ‘n fondsinsameling met Kevin Leo en ander kunstenaars ter stywing van die hoofbestuur se Rampfonds.
- ‘n Opvoering van Navi Redd word beplan vir 2006. Meer inligting sal in ‘n volgende omsendbrief gegee word.
ooooOOOOoooo
|